ONS OMROEPERS


BENESCKE JANSE VAN RENSBURG

Uitsaai tye:
Weeksdae 09:00 - 12:00

Energiek, kreatief en met groot drome. Dít is hoe jy Benescke Janse van Rensburg, gewilde radio-omroeper van die oggendprogram Bonanza op Tygerberg 104FM kan beskryf. Sy is ook skrywer en haar vyfde boek, God was dáár, is vroeër vanjaar bekendgestel. Tog sê sy, dit was ma-wees wat haar en haar man, Johannes, met nuwe oë na die lewe laat kyk het. En dit is juis hulle eenjarige woelwater wat hulle meer passievol maak oor gelukkige gesinne, om voluit te leef en om groter oor die toekoms te droom.

Benescke is baie nuuskierig en hou van nuus, dus het sy nog altyd haarself gesien as iemand wat ondersoekende joernalistiek sal doen. Sy het nooit as jong kind gedroom daarvan om ’n radio-omroeper te wees nie. Dit het net gebeur. Tog weet sy dat waar sy tans is, sy binne God se wil vir haar lewe is. Dit bly vir haar ’n voorreg om terugvoer van luisteraars te kry wat vertel dat hulle “toevallig” op ’n tyd ingeskakel het op Tygerberg 104FM en iets gehoor het wat hulle lewens vir ewig verander het. Dit is dan dat sy wéét dat die Heilige Gees werk! Sy is bloot die instrument.

“Energiek,
kreatief en met
groot drome.”